Geologiese plooiing

Geologiese Plooiing is plooie wat ontstaan wanneer lae geologiese gesteentes deur spanning in die aardkors vervorm word. Hierdie lae kon oorspronklik plat gewees het, of alreeds vervormde lae gewees het wat tydens afsetting of daarna vervorm is. Wanneer geplooide gesteentes aan 'n tweede fase van plooiing onderwerp word, kan baie ingewikkelde landsvorme ontstaan. Plooiing ontstaan a.g.v. drukkragte in die aardkors, wat veroorsaak word deur plaattektoniek (beweging van die aardkors).

Foto van plooiing in die Kaapse Plooiberge gesien in 'n padsnit in die Oos-Kaap.
Foto van plooiing in die Kaapse Plooiberge gesien in 'n padsnit in die Oos-Kaap.

Feitlik alle gesteentes is op die een of ander tyd onderwerp aan 'n vorm van spanning, wat plooiing tot gevolg kan hê. Plooie en verskuiwings is verantwoordelik vir baie komplekse strukturele verskynsels in sekere gebiede. Die belangrikste vormingswyse van bergreekse is deur antiklinale plooiing en oorskuiwings.

Plooie neem baie vorme aan, wat afhanklik is van die eienskappe van gesteentes, so os byvoorbeeld brosbreeksterkte, elastisiteit en plastisiteit. Wanneer die druk op 'n liggaam uit alle rigtings ewe groot is, word gepraat van hidrostatiese druk. Die druk wat op die gesteentes van die aardkors inwerk, word egter litostatiese druk genoem. Indien die druk nie van alle kante ewe groot is nie, ontstaan 'n skuifskeurspanning in die gesteente en neig die gesteente om van vorm te verander (vervorming of deformasie).

Daar kan 3 tipes vervorming onderskei word: elastiese, plastiese en breukvorming. By elastiese vervorming keer die gesteente na sy oorspronklike vorm terug wanneer die krag wat daarop inwerk, verlig word. Hierdie tipe vervorming kom onder meer voor by die seismiese ondersoek van die aardkors, waar drukgolwe deur die gesteentes dring. Elastiese vervorming is net moontlik tot by die elastisiteitsgrens. Indien die vervormingskrag te groot word, sal die gesteente plasties vervorm word, met ander woorde daar sal 'n mate van vervorming in die gesteente behoue bly.

Op hierdie wyse sal geplooide gesteentes ontstaan. By verdere vervorming kan die breuk sterkte van die gesteente oorskry word, sodat breukvorming sal plaasvind. Die snelheid waarmee plooie in die natuur ontstaan, is 'n onderwerp waaroor gespekuleer kan word. In laboratoriumeksperimente kan die werklike toestande nie akkuraat nageboots word nie, sodat interpretasie moeilik bly.


Developed by StudentB